Montagu Droeë Vrugte en Neute

McKeila Janse van Rensburg (10) van Eversdal Primêr is ‘n bekende en geliefde gesig by die Eidelweiss ACVV Diensoord in Stellenberg. Hier help sy haar ma, Penny van Creative Hope elke Woensdag met inspirerende kunsklasse vir die bejaardes. Tydens Radio Tygerberg 104fm se besoek was McKeila ons toerleier en duidelik ‘n liefling van elke inwoner. Op die foto is sy by Me. Gretchen Coetzer (links voor) en Maryna Grobbelaar, beide oud onderwyseresse. Agter staan haar ma Penny en Radio Tygerberg 104fm se Lorrein Katzke.

Foto’s: Gerald Petersen

Moeder Teresa was bekend vir haar betrokkenheid in die gemeenskap en daar is inspirerende stories van hoe haar betrokke hart nie net lewens aangeraak het nie, maar werklik inspraak in mense se lewens gemaak het. Op ‘n keer het sygesê:

“`n Lewe wat nie vir ander gelewe word nie, is nie die moeite werd nie.”

Radio Tygerberg 104fm, wat in September 25 jaar op die radiogolwe in die Kaapse Skiereiland vier, verstaan dit maar al te goed. Personeel van die radiostasie het Woensdag in samewerking met Montagu Droeë Vrugte en Neute die Eidelweiss Ouetehuis in Stellenberg besoek om saam met die organisasie Creative Hope droeë vrugte aan die inwoners uit te deel.

Creative Hope is ‘n organisasie wat reeds ’n geruime tyd by die Eidelweiss Ouetehuis (en by nege ander ouetehuise) betrokke is, deur kreatiewe werksessies met van die inwoners wat nie meer self met gemak kan beweeg nie. Die kunstenaars wissel van 70 tot 95 jaar en die klasse wissel van ses tot 17 bejaardes.

“Ons sessies is ongeveer‘n uur en ons doen’n verskeidenheid van aktiwiteite soos die verf van rivierklippe, versiering van kolwyntjies tot die versier van plante in glashouers,”sê Penny Jansen van Vuuren, stigter van die organisasie. “Dit is so nodig dat ons kreatief gestimuleer word en ons weet dat kunsterapie kommunikasie, breinfunksie asook sosiale interaksie verbeter. Om kreatief besig te bly, selfs vir iemand wat nie baie kunstig is nie, verbeter ons seniors se gesondheid, want dit gee weer sin aan die lewe. Hulle kan hul kunswerke met mekaar of met hul gesinslede deel.”

Radio Tygerberg 104fm se luisteraars geniet altyd stories van hoop en wat inspireer. “Ouderdom wag vir ons elkeen en dit is verblydend om te sien dat daar passievolle mense is wat betrokke is om ons goue jare selfs meer op te helder,” sê Rikus van Rooy, inhoudsbestuurder by die stasie. “Vandag was beslis een van daardie dae wat hoop gee. Ons is ook dankbaar dat Radio Tygerberg 104fm geseën is om met vennote soos Montagu Droeë Vrugte en Neute hande te kan vat tydens uitreik aksies in die gemeenskap. Ons is eerstens ‘n bediening en wil ons luisteraars oor die hele Skiereiland met die GoeieNuus van Jesus Christus bedien.”

“Volgende week begin ons groot fonds insameling en ons tema is Geseën om te Seën en ons nooi almal uit om in te skakel en selfs te kom inloer by Radio Tygerberg,” sê Van Rooy. “Die afgelope 25 jaar is vir Radio Tygerberg 104fm ’n verhaal wat getuig van soveel seëninge. Ons wil die verhaal met almal deel.” Radio Tygerberg 104fm is geleë op die hoek van Fairfield-en Willamsstraat in Parow.”

Op die laaste Vrydag van die maand het Radio Tygerberg 104fm ses addisionele nuusbulletins wat net fokus op goeienuus stories. Met #Goeienuusvrydag wil die stasie stories van hoop en nuus wat in ‘n verskil in die gemeenskap maak, met luisteraars deel. Indien jy ‘n storie van hoop wil deel of betrokke wil raak by projekte, stuur ‘n sms na 32716 (R1 per sms) met die woord Goeie Nuus en jou naam of e-pos info@tygerberg104fm.co.za met die woord Goeie Nuus in die onderwerpveld.

Besoek ook die Facebook-blad van Radio Tygerberg 104fm vir meer foto’s en video’s oor die uitreik by Eidelweiss Ouetehuis. www.radiotygerberg.co.za

2018-06-07T21:35:24+00:00 May 27th, 2018|Algemeen|0 Comments