Vir die blom van Kaapstad, Mitchell’s Plein, het die herlewing amptelik begin. Bekende evangelis, Angus Buchan het ‘n skare van nagenoeg 150 000 by die Swartklip-sportterrein toegespreek en tydens die sessie sy hemp, stewels, hoed, baadjie en Bybel aan bendelede gegee het wat vorentoe gekom het vir gebed. Buchan het ’n spesiale beroep op bendeleiers gedoen om hulself te bekeer. Twaalf manne en vroue het van die uitnodiging gebruik gemaak en vorentoe gekom.
“Bendeleiers is leiers,” het hy gesê. Hulle gaan net in die verkeerde rigting.
“Met die herlewing wat hier in Mitchells Plein begin, wil ons mense van hier tot in KaÏro, tot in Europa, tot in Amerika, laat weet dat Afrika nie meer die donker vasteland gaan wees nie”, het Buchan gesê.
Die gebedsgeleentheid, wat as die grootste enkele gebeurtenis in Kaapstad beskou word, word as insidentvry beskryf volgens die woordvoerder van die Mitchells Plein Polisiestasie, kaptain Ian Williams. Geen diefstal is aangemeld nie.
Daar was slegs dertien mediese insidente, waarvan tien gering was en drie na naby geleë mediese instansies geneem is, sê Robert Daniels, woordvoerder van die Wes-Kaapse Mediese Nooddienste (EMS). Ook dr Michael Mol, wat aan die hoof van die mediese vrywilligers gestaan het, het beklemtoon dat die geleentheid basies insidentvry verloop het.
Volgens Deon de Groot, projekbestuurder van It’s Time Kaapstad en voltydse Bloemfonteinse boer, is die biddag deur sowat 2 000 vrywilligers gereël wat met toe tale toewyding gewerk het. Hardus Zevenster, nog ‘n projekbestuurder van It’s Time Kaapstad en hoofuitvoerende beampte van die Bloudruk Groep, het die volgende oor die geleentheid te sê: “Its Time – Kaapstad was een van daardie gebeurtenisse wat vir ewig sal uitstaan as een van die hoogtepunte van my lewe. Om die absolute vrede en eenheid te beleef van ’n span wat onder geweldige druk moes werk, is iets wat ek nog nooit beleef het nie. Ons het die grootste enkel geleentheid gereel in die geskiedenis van die Wes-Kaap en daar het nooit een aggressiewe woord geval nie en geen ego’s was teenwoordig nie. Die groep is gekenmerk deur ’n ongelooflike diensbare ingesteldheid en die vrede wat net die Here kon bring was deurentyd daar. Wat ’n ongelooflike voorreg om so ’n groep te kon lei. Om te kon sien en beleef wat die geleentheid vir die mense van Mitchells Plein beteken het bring steeds trane in my oë. Ek glo daar het ’n kopskuif by baie mense van die Wes-Kaap op 24 Maart plaasgevind. My gebed is nou dat die Here self dit wat hy begin het sal deurvoer totdat daar totale geestelike en fisieke transformasie in die Kaap plaasgevind het. My gebed is ook dat elke inwoner sy of haar rol in die proses duidelik sal raaksien en sal uitvoer tot eer van Jesus.”
Vir meer foto’s, video’s en getuienisse, besoek Radio Tygerberg 104Fm en Angus Buckhan se Facebook-blaaie.