Hoe betroubaar is jou God?

Reinhard Kotze

So middel Mei 2018 het ek die baie talentvolle musikant, Kevin Leo, ontmoet. Ons het gesels oor sy nuwe album, XXI (21) en waar die wêreld en sy loopbaan hom neem.

Van al die liedjies op hierdie album is daar ’n ou bekende een wat ek al soveel keer gewens het ek uit volle bors kan sing soos die groot geeste in die musiekbedryf. En daardie lied het ook ’n geskiedenis wat mens twee keer laat dink.

Die lied is Great is thy Faithfulness. Dit is geskryf deur Thomas Chisholm in 1923 oor die ontdekking van wie God is en hoe Hy elke dag getrou is vir die wat op Hom vertrou. Die eerste paar note is gevul met emosie, maar halfpad deur die lied vind jy dat jy sommer uit volle bors saamsing.

Maar ’n mens besef dat God deur al die jare nooit verander het nie en dat hy konstant probeer om jou vir Hom te wen. Hoeveel keer kan ons waarlik sê dat God ons in die steek gelaat het? Dink aan toe Hy dalk jou huwelik gered het? Of toe jou kind die beste punte gekry het? Of selfs toe die regter in jou guns besluit het? God se getrouheid en betroubaarheid is oral om ons. Ons moet dit net meer besef.

Die Bybel sê “werp al jou bekommernisse op Hom” (1 Pet. 5:7) en Hy sal jou krag gee, en dit is al wat ons somtyds nodig het. Die wete dat God daar is vir ons en dat hy gaan deurkom vir ons waneer ons Hom die nodigste het.

God se getrouheid kan mens met vrymoedigheid op die toets stel. God vou nie onder die druk van die lewe nie, maar eeder kom Hy en wys Hy die krag van Sy getrouheid.

As jy weer die lied, Great is thy Faithfulness, hoor, kan jy dalk, soos ek, die volume bietjie harder draai en uit volle bors saamsing. En terselfder tyd die duiwel daaraan herinner dat JOU God betroubaar is, selfs in daardie tye wat ons glad nie betroubaar is nie.

2018-06-07T18:32:41+00:00 May 26th, 2018|Algemeen|0 Comments